GROEI-GOGGAS VLIEG GRAAD R BINNE

groeigoggas

“Ons het gister gesien hoe ʼn sirkel voltooi is. Jy kan duidelik sien hoe elke liewe maatjie in ʼn jaar se tyd sedert hierdie skooltjie geopen het, ontwikkel het; nie net fisies nie, maar ook emosioneel en geestelik,” vertel Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATTSA.

Groei-Goggas is ʼn skooltjie in Danville wat in Januarie verlede jaar die lig gesien het. Hierdie ATTSA-ondersteunde projek stel voorskoolse kinders met groot maatskaplike uitdagings aan ʼn opvoeding bloot wat op skoolgereedheid én waardestelsels fokus. Die heel eerste graad R-klas is gister in gebruik geneem. “Die saadjie is verlede jaar by elke kind geplant, en nou gaan ons voort om hierdie saadjies water te gee en te laat ontwikkel. Daar is nog baie werk, maar Groei-Goggas wil dit vir elke kind moontlik maak om aan die einde van hierdie skooljaar vrug te dra. Self ʼn groot ou akkerboom was eens op ʼn tyd ʼn klein ou saadjie.”

Dinah vertel hoe anders die leerders is as ʼn jaar gelede. “Hulle is baie meer ontspanne en spontaan, hulle lag, speel en gesels saam. Aan die begin van verlede jaar was hulle bang, onseker en teruggetrokke, maar nou is hulle kinderlik opgewonde om weer saam met hulle maats in ʼn volgende fase te wees.”

Die struktuur van Groei-Goggas het ook sedertdien uitgebrei. Waar daar vantevore nog net assistente saam met hulle juffrou (Frances Delport) was, is daar nou ook ʼn grondslagfasehoof aangestel. Melandri Sneygans sal hierdie leerders lei totdat hulle uiteindelik gereed is vir graad 1. Driana Zandberg is die maatskaplike werker wat op vele terreine vir ondersteuning aan leerders sorg.
 
“Die onderwysers pas dissipline en struktuur toe met passie en liefde. Die kinders kry werklik hier meer as wat hulle al ooit in hulle lewe gehad het. Hulle word aan ʼn wêreld blootgestel met inligting, boeke en kennis en kry ʼn kans om bo hulle omstandighede uit te styg.”
Dinah deel hoe hierdie leerders daagliks ʼn bord kos ontvang. “Waar jy amper elke keer as jy by restaurante uiteet sien hoe kos deur kinders vermors word en borde onaangeraak teruggestuur word, is dit regtig ongelooflik om hier te staan en kyk hoe hierdie kinders tot die laaste korreltjie rys in hulle borde opeet.”

Die Groei-Goggas stap smiddae by die hek met hulle tassies op hulle rûe uit, met koppe vol nuwe kennis en magies vol kos!

As jy dalk by Groei-Goggas betrokke wil raak, kontak ATTSA by help@attsa.org of skakel vir Frances Delport, skoolhoof, by 072 380 7923.

Meer artikels