voornemende pleegouers

So baie voornemende pleegouers word oorweldig deur die realiteit van pleegsorg en daarom is die kursusse wat die Afrikaanse Toekomstrust Suid-Afrika (ATTSA) in samewerking met Fact Network aanbied van kardinale belang vir ouers wat dié roeping oorweeg.

HET JY ’n HART VIR PLEEGOUERSKAP?

Raak betrokke deur die onderstaande vorm in te vul as die eerste stap.

    Dr. Louise Aucamp, stigter van Fact Network, is die aanbieder van die kursusse.

    “Pleegouers speel ’n belangrike rol in die kinderbeskermingstelsel en bied ’n kind die geleentheid om gesonde emosionele verbintenisse te ontwikkel, hul ontwikkelingspotensiaal te bereik en waardevolle lewensvaardighede aan te leer. Die meeste pleegouers betree die arena van pleegsorg met ’n begeerte om ’n verskil in die lewe van ’n kind te maak. Die ouers se hartsbegeerte om ’n veilige omgewing, liefdevolle gesinslewe en sorg aan ’n kind te bied, word egter dikwels gekonfronteer met die realiteit van trauma en die impak daarvan op die kind se vermoë om dit wat pleegouers bied, te benut,” vertel dr. Aucamp. 

    “Pleegouers word dikwels ontnugter en swak toegerus om die verreikende gevolge wat trauma, verlies en gebrek aan veilige gehegtheid op die pleegkind gehad het, te hanteer. As gevolg van ’n gebrek aan kennis, begrip en vaardigheid in die hantering van gedragsuitdagings wat voortspruit uit die dinamika van die pleegkind se vroeëre ervaring, voel pleegouers uiteindelik magteloos en word die stryd om die kind in ’n stryd teen die kind verander – wat lei tot baie mislukte plasings en verskerpte trauma en verlies vir die kind.

    “Omvattende opleiding vir pleegouers is dus noodsaaklik om te verseker dat pleegouers nie net pleegouerskap betree met realistiese verwagtinge nie, maar ook goed toegerus is met kennis, vaardigheid en begrip oor hoe om gedragsuitdagings te navigeer en blywende verhoudings te bou in die stryd vir ons kinders.

     

    ATTSA het die behoefte geïdentifiseer vir hoë gehalte opleiding om pleegouers toe te rus met die nodige kennis, vaardighede en ondersteuningsnetwerk om suksesvolle pleegplasings en heling van getraumatiseerde kinders binne hierdie plasings te verseker.

    Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATTSA, het gesê: “Pleegouerskap is uitdagende roeping. Dit is egter ook ’n roeping van verrykend vir ouers en kinders kan wees. Pleegouerskap kan egter nie sonder opleiding, kennis en ondersteuning aangepak word nie. 

    “Pleegouers is dikwels nie toegerus vir die reuse-taak om nie net aan ’n getraumatiseerde kind ’n veilige huisomgewing te bied nie, maar hoe om hulle te begelei op die pad na genesing en herstel. Meeste pleegkinders kom die maatskaplike sisteem binne met ’n geskiedenis van trauma, verwerping en gebrek aan sekure binding. Uiteraard bring dit verskeie gedragsprobleme mee waaroor pleegouers (weens gebrekkige kennis, vaardighede en ondersteuning) nie opgewasse is om effektief te hanteer nie.  

    “Met die kursus word pleegouers nie net goed voorberei rondom realistiese verwagting ten opsigte van die pleegkind en die sisteem nie, maar word hulle toegerus met kennis en praktiese vaardighede om gedraguitdagings te verstaan en effektief aan te spreek. Die opleiding sal pleegouers verder in kontak bring met ’n uitgebreide ondersteunings netwerk – nie net van ander pleeg ouers en gesinne nie maar ook professionele persone wat hulle kan bystaan.”