Pleegsorg bied ʼn veilige hawe aan kinders

featimg

Pleegsorg is die versorging van ʼn kind deur iemand wat nie sy natuurlike ouer is nie deur bemiddeling van ʼn welsynsorganisasie. ʼn Pleegkind is ʼn kind wat tydelik in die sorg van ʼn persoon geplaas is wat nie sy natuurlike ouer is nie. Vanuit hierdie definisies soos in Pharos se Woordeboek van Regs- en Handelsterme, word daar dus afgelei dat ʼn pleeghuis ʼn plek is waar pleegkinders in pleegsorg geplaas word.

“ATTSA besit en bestuur verskeie pleeghuise in Suid-Afrika wat ʼn tuiste vir kinders uit gebroke omstandighede skep wat sonder enige heenkome en maatskaplike hulp gelaat is. Hier vind kinders weer lag, liefde en lewenswaarde,” verduidelik Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATTSA.
ʼn Pleeghuis en pleegouers streef daarna om kinders veilig en tuis te laat voel en met liefde, empatie en begrip vir hulle omstandighede te aanvaar en te ondersteun. Dit is natuurlik ʼn groot verantwoordelikheid.

“ATTSA bied ʼn omvattende pleegoueropleidingsprogram aan wat op die ontwikkelingsbehoeftes en spesiale behoeftes van kinders fokus, asook die bou en instandhouding van verhoudings. Ons gee ook leiding hoe om gevalle te hanteer as liefde nie genoeg is nie.”
Om as pleegouer te kwalifiseer, moet daar natuurlik aan sekere vereistes voldoen word en vind daar eers ʼn keuringsproses plaas. Pleegouers is mense wat bereid is om ʼn huis aan kinders te bied wat soms erg getraumatiseerd is. Pleegouers moet in die daaglikse behoeftes van ʼn kind voorsien, maar moet hom/haar ook veilig laat voel terwyl daar genoegsame dissipline toegepas word. Daar moet toegesien word dat die kind skool bywoon en sosiaal, fisies en emosioneel ontwikkel. Samewerking tussen die pleegouer en maatskaplike werker is krities.

Daar is verskeie redes vir die verwydering van kinders uit ouerlike sorg, byvoorbeeld fisieke, seksuele en/of emosionele mishandeling, verwaarlosing, gesinsgeweld en alkohol- en dwelmmisbruik.
Vra jouself die volgende vraag af: Waar sou hierdie kinders oor Kerstyd gewees het as dit nie vir pleeghuise en pleegouers was nie? Bronkhorst, wat nie net ʼn groot hart vir pleegsorg het nie maar sélf ook al jarelank ʼn pleegouer is, vertel hoe daar nog ʼn jaar gelede van hierdie kinders was wat totaal onversorgd was. “Nou kan hulle met kinderlike opgewondenheid malvalekkers braai en ook na ʼn geskenkie onder die boom uitsien.”

As jy ʼn hart vir pleegsorg het, stuur gerus ʼn e-pos aan help@attsa.org vir meer inligting.
ATTSA verwelkom altyd mense wat dieselfde uitkyk as hulle deel: Hulp met Hart.

Meer artikels