Groei-goggas lei én voed voorskoolse kinders op

groei

Groei-Goggas is ʼn skool vir voorskoolse kinders wat in Januarie vanjaar in Danville geopen is. Daar is tans 20 kinders met ouderdomme wat tussen vier en vyf jaar wissel. Hierdie ATTSA-ondersteunde projek wil kinders in Pretoria-Wes met groot maatskaplike uitdagings op verskillende terreine van die lewe nie net aan ʼn opvoeding blootstel wat sal help om hulle skoolgereed te kry nie, maar ook aan ʼn waardestelsel wat hulle nie noodwendig by hulle huise leer nie.

“Afrikaanse skole word al hoe skaarser in Pretoria-Wes en baie ouers het net eenvoudig nie die fondse om hulle kinders na skole te neem wat verder weg geleë is nie. Groei-Goggas het na aanleiding van hierdie probleem wat veral deur werkloosheid veroorsaak word ontstaan, maar ook veral as gevolg van ouers wat weens beperkte intellektuele vermoëns nie daartoe in staat is om kinders verstandelik te stimuleer nie,” verduidelik Driana Zandberg, maatskaplike werker verbonde aan Groei-Goggas. “Die agterstand wat hierdie kinders beleef, is geweldig groot. Van die kinders het byvoorbeeld nie eens televisies of elektrisiteit in hulle huise nie. Kinders word deur ʼn arbeidsterapeut geassesseer. Ek ondervind dat baie van die ouers net nie insig het nie, en dit is nie iets wat jy maklik vir iemand kan leer nie,” sê Zandberg.

Vyftien van hierdie kinders sal in 2023 Groei-Goggas se heel eerste graad R-klas uitmaak waar die onderrigmodel hoofsaaklik op die kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV)-model geskoei is, maar ook Montessori-beginsels insluit wat daarop gemik is om kinders in die geheel te ontwikkel (bv. met die gebruik van musiek, kuns en drama) en kinders verantwoordelikheid vir hulle dade en keuses te leer.

Zandberg gaan voort en verduidelik dat die behoefte aan kos groot is. “Hierdie kinders kry die meeste van die tyd nie gesonde kos by die huis nie. Vakansietye stuur Groei-Goggas kospakkies huis toe sodat ons kan weet dat die kinders minstens kos het vir die paar dae wat hulle nie by die skool is nie. ʼn Kind kan ook geborg word teen R500 per maand. Elf van die twintig kinders word tans geborg en borge besluit self hoe betrokke hulle wil wees. Party borge is net op kinders se verjaardae betrokke, ander koop klere of neem hulle elke tweede maand Spur toe.
“Van die ouers is baie onkundig. Dit sal wonderlik wees as iemand dalk die ouers kan leer hoe om basiese noodhulp toe te pas,” deel Zandberg van die behoeftes wat hulle ervaar.

Melandri Sneygans, opvoedkundige by Groei-Goggas, gee al vir tien jaar skool en het ook ondervinding hoe om met kinders met emosionele uitdagings te werk. “Ek wou van graad 1 af net skoolgee en het van kleins af vir my boeties skoolgehou. Die Here het Groei-Goggas oor my pad gebring. Hier kan ek Sy liefde uitleef en koninkryk bou. Dit is presies waar ek moet wees.”

Sneygans vertel dat sy self in Danville grootgeword het en weet hoe dit voel om met ‘n onvolledige uniform skool toe te moet gaan en nie by die huis ‘n voedsame bord kos kan kry nie. Sy weet hoe ‘n kind dan daarna uitsien om iets te ete by die skool te kry saam met ‘n warm drukkie, en soms ‘n ietsie ekstra, vanaf ‘n liefdevolle juffrou wat jou verstaan.

“Ek het die Here se liefde van kleins af ervaar. My ouers het my gewys dat daar potensiaal binne my is. Ek glo elke kind, ryk of arm, het die potensiaal om bo uit te kom. Dit is jou brein wat geoefen moet word en dit is wat ek doen om ʼn verskil in elke kind se lewe te maak. Dit maak my hart verskriklik warm om te sien hoe kinders ontwikkel en om hulle dinge te laat bereik wat nie hulle óf hulle ouers ooit binne hulle raakgesien het nie. Ons bou elke blokkie in hierdie lyfies sodat hulle gereed kan wees vir graad 1.”

Verskillende metodes en tegnieke word gebruik om elke kind te akkommodeer met empatie vir emosies. “Die kind moet sy skooltas kan vat as hy hier weggaan en in enige hoofstroomskool kan regkom. Ons leer baie deur te speel; groot en klein motoriese oefeninge. Ons vleg ook veral in die laaste kwartaal dit wat die kinders leer ineen met dit waaraan die kinders die volgende jaar blootgestel gaan word sodat die aanpassing dan nie te groot is nie. Wanneer hulle volgende jaar skielik vir vyf ure moet stil sit, het hulle al die vorige jaar daarmee te doen gehad,” vertel Sneygans passievol.
 
Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATTSA, verduidelik dat berading, terapie, voedselskemas en opheffingsprogramme by Groei-Goggas plaasvind. “Ons wil graag die ketting breek waar kinders in die sirkel van armoede verval deur hulle bloot te stel aan ʼn beter vooruitskouing deur opvoeding en ʼn waardestelsel.”
 
Frances Delport, skoolhoof by Groei-Goggas, se passie vir kinders is duidelik. Sy is reeds 30 jaar by kleuterskole betrokke: “ʼn Mens kan nie net met ʼn kind raas as hy die dag nie homself is nie. Daar is dalk omstandighede by die huis wat aanleiding daartoe gee. By sommige van die huise speel drank en dwelms ook ʼn rol. Groei-Goggas is vir ons kinders ʼn veilige hawe waar hulle kan groei; nie net akademies nie, maar ook groei om hulleself te kan wees.”
 
Kara Pieters, maatskaplike werker by FACT Network, het demografiese navorsing in Danville, Elandspoort en Booysens gedoen. Hieruit kon gesien word dat enkelouers (veral ma’s) volop is. Talle persone is werkloos en kry óf geen inkomste nie, óf ʼn Sassa-toelaag. ʼn Gesamentlike huishoudelike inkomste tussen R0 en R5 000 is in baie gevalle aangedui en die afhanklikheid van skenkings soos kos, klere, mediese dienste en terapeutiese dienste het sterk na vore gekom.

Hierdie navorsing beklemtoon die belangrikheid van ʼn skool soos Groei-Goggas waar die sirkel van armoede net verbreek kan word as kinders van baie kleins af aan ʼn ander tipe lewe blootgestel word.

As jy ʼn passie het vir kinders se ontwikkeling, Afrikaanse onderwys en ʼn hart vir behoeftiges, raak vandag nog by Groei-Goggas betrokke. Jou bydrae sal ʼn verskil in ʼn kind se lewe en toekoms maak.

Meer artikels