KOEKIES VOL LIEFDE, LEKKERTE ÉN HOOP

koekie

As jy nie kan kies tussen gemmerkoekies, koffiekoekies, vlakoekies, soetkoekies of sjokoladesplinterkoekies nie, wees nie bevrees nie! Jy kan hierdie Desembervakansie sommer aan ál hierdie koekies smul terwyl jy na die see staar, in die berge stap, of met Jan Tuisbly se karretjie ry! Boonop sal jou aankope help om werk aan elf dames by Eljada Huis te verskaf.

“Help die Bakkers” is ʼn ATTSA-ondersteunde projek waar dames uit die gemeenskap opgelei en opgehef word. “Hier leer hulle nie net om koekies te bak nie, maar ook om weer menswaardig te voel omdat hulle nou ʼn inkomste kan verdien,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATTSA. “Die inkomste uit die koekies word verder ook aangewend vir bedryfsuitgawes by ons pleeghuise. ATTSA voorsien van die toerusting en help met die verkope van hierdie koekies.”

Alta, hoofbakker by Eljada Huis, vertel hoe elke houer koekies met liefde gebak word. “Ons werk so lekker saam en is mekaar se vriendinne. Vanaand as jy by die huis kom, is jy moeg gebak, maar dan sê ek vir die Here dankie dat ek ʼn werk het.”

Kontak vir Monique du Plessis by 071 483 8502 of koekies@attsa.org om jou kilogram liplekker gemengde koekies teen R100 te koop!

Sou jy dalk by opleiding of die verspreiding van hierdie koekies betrokke wil raak, kontak ATTSA by help@attsa.org.

 

Foto: Vyshnavi Bisani | Unsplash

Meer artikels