ATTSA- uitvoerende hoof wen gesogte toekenning

AAA dokument

Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA), is gisteraand aangewys as die wenner van die jaarlikse African Achievers Awards-toekenning wat sy tydens ʼn glansgeleentheid in Londen in ontvangs geneem het. Hierdie prys word toegeken aan entrepreneurs, gemeenskapsbouers en diegene wat doeltreffend ʼn bydrae in die opheffing van Afrika lewer.
 
“In die wêreld waarin ons werk, word organisasies min of selde bedank of erkenning aan gegee. Ek is so dankbaar,” sê Dinah. Sy gaan voort deur te verduidelik dat gemeenskapsontwikkeling drieledig is. “Tyd, vertroue én spanwerk is nodig. Om tyd aan en in die gemeenskap te spandeer moet jy eers alle aspekte rondom die gemeenskap verstaan. Met verloop van tyd bou jy nie net aan ʼn vertrouensverhouding met die gemeenskap nie, maar ook met donateurs wanneer hulle sien dat jy werklik doen wat jy gesê het jy sal doen.

“Ek ontvang dus nie hierdie toekenning as individu nie. Dit kom ook ander toe: My man en kinders wat altyd my passie vir mense verstaan wanneer hulle my voortdurend met soveel ander kinders en gemeenskapsprojekte moet deel. Dan ook die CPISA-span se toewyding, harde werk, opregte harte en liefde vir die gemeenskap.”
 
Dinah dra die toekenning op aan elke persoon wat as vrywilliger in Suid-Afrikaanse gemeenskappe werk. “Dit is nie ʼn maklike taak nie en soms ook nie veilig nie. Julle is die helde in my oë. Aan God al die eer.”

Die African Achievers Awards gee erkenning aan diegene wat hulle tyd en talente onbaatsugtig daaraan toewy om ʼn sterker gemeenskap te vestig. Dinah is voltyds by Care Protect Invest SA en ATTSA betrokke. Beide organisasies loods projekte en programme met die oog op gemeenskapsontwikkeling en bied ook aan organisasies ʼn platform om hulle maatskaplike verantwoordelikheid uit te oefen.

Meer artikels