ATTSA Gee vroue in nood moed

bag

“Een uit elke drie vroue wêreldwyd sal in hul leeftyd een of ander vorm van mishandeling ervaar, hetsy fisies of emosioneel. Die doel van die genadesakprojek is om hierdie groep vroue te bereik en uitkoms deur middel van ’n vyfpuntplan aan hulle te bied,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van die ATT.

ATTSA, en ’n paar ander nie-winsgewende organisasies, skep saam met die sangeres Corléa en Elzaan van der Merwe van MaMilla Fashions, hoop deur mishandelde vroue só te help. Die projek is reeds ’n paar jaar aan die gang.

“Genade is so ’n mooi woord, maar dit is ook ’n werkwoord. Jy kan vandag deel word van hierdie vrouens se nuwe begin deur ‘n goeie kwaliteit tweedehandse handsak, gevul met ‘oorlewingsitems’ en inspirasie te vul. Dit sal ’n gesigwas, nag- en dagroom, haarprodukte en ’n borsel, lyfseep, ’n waslap, deodorant (aanrol en spuit), handeroom, gesigsponsies, weggooibare klamlappies (wipes), Dettol, ’n tandeborsel, tandepasta, flos, skeermesse, wasgoedpoeier en sanitêre doekies insluit,” verduidelik sy.

Buiten vir die noodsaaklike, persoonlike en nie-bederfbare items, benodig ’n vrou wat in hierdie situasie verkeer berading, mediese hulp asook regshulp, en in sommige gevalle, selfs ’n interdik. “Sonder hierdie emosionele en finansiële bystand kan sy nie uit haar omstandighede ontsnap of dit verander nie,” sê Bronkhorst. 

Op grondvlak help die ATT om hierdie genadesakke by slagoffers uit te kry deur huise van veiligheid te besoek en maatskaplike werkers en ander relevante organisasies te betrek. Die ATT het ook, weens hul betrokkenheid by die genadesakprojek, die groot nood vir ’n huis van veiligheid — waar mishandelde vroue weer hul voete kan vind — raakgesien. Hul droom om só huis te open, is op die kaarte.

Bronkhorst voeg by dat voor vroue so gehelp kan word, moet hulle eers uit hul huidige omstandighede kom en sommige weet nie waar om te begin nie.

“Die heel belangrikste is om altyd seker te maak jy en jou kinders veilig is deur die opstel ’n krisisplan. Neem iemand in jou vertroue en maak seker daardie persoon is as noodnommer op jou foon gelys. Noodnommers is ongelooflik belangrik om te hê.  Maak seker jou kinders weet wat om te doen indien julle in gevaar is en hê belangrike en noodsaaklike dokumente soos identiteitsdokumente, mediese kaarte en bankkaarte in jou besit.”

Sy vertel verder dat vroue wat van voorneme is om hul lewensmaat te verlaat dit moet doen wanneer hy/sy nie by die huis is nie.

“Jy moet nooit in vrees leef nie, jy mag nooit aanvaar dat dit wat met jou gebeur, jou straf of jou skuld is nie. Dit is so maklik om in dié slaggat te val. Hou altyd ’n lys van noodnommers byderhand (ook belangrik om te onthou om jou foon gelaai te hou en battery-laaier te hê).”

Belangrike noodnommers om van kennis te neem:

SMS die woord GENADE na 40112 indien jy hulp nodig het

Lifeline –0861 322 322

Geslagsgeweld-hulplyn: 0800 150 150

SAPD noodnommer: 10111

Kinderlyn: 116

Meer artikels