Groei Goggas-skool open in Danville

WhatsApp Image 2022-01-11 at 17.23.42

Die Groei Goggas-skool vir voorskoolse-kinders is Dinsdag in Danville geopen.

Frances Delport, Hoof van Groei Goggas, het tydens die opening beklemtoon hoe spesiaal en belangrik die skool gaan wees.

“Ek is so dankbaar vir dit wat ons vandag hier kan begin. Dit is danksy hulp uit verskeie oorde en hulp van God gesmeek wat ons hier staan en die skooltjie kan open.”

Groei Goggas is ’n leersentrum van uitnemendheid Graad R-kinders.

“Daar is ’n geweldige probleem wat opvoeding betref omdat die aanbod vir onderrig in Afrikaans vir agtergeblewe, arm gesinne hier beperk is. Talle ouers is nie in staat om skoolfonds te betaal of hul kinders na omliggende areas se Afrikaanse skole te vervoer nie. Kinders gaan dus of glad nie skool toe nie óf hulle het ’n geweldige agterstand wanneer hul in graad een kom omdat hul graad R, wat nie deur die staat verplig of gesubsidieer word, mis. Hulle val dus uit die bus, voltooi dikwels nie hul skoolloopbaan nie en verval in die sirkel van armoede,” het Dinah Bronkhorst, die uitvoerende hoof van die ATTSA, gesê.

Bronkhorst het bygevoeg dat alle beginsels van die Groei Goggas-skool op Christelike beginsels gebaseer is.

ATTSA beoog om dié Afrikaanse kleuterskool met twee klasse in 2022 te begin waar ouers op ’n glyskaalbasis volgens hul inkomste tot die skoolfonds bydra. 

Die uitvoerende hoof van Lig Kinderbediening en Lig Terapiesentrum, Louise Rossouw, is besonder opgewonde oor die leerplan wat gevolg gaan word. “Die fokus sal onder andere wees om waardes — soos respek, deursettingsvermoë en selfmotivering —  wat hulle nie noodwendig by die huis aanleer nie, vas te lê. Hierdie is ’n goeie vertrekpunt vir dié kinders om van die boeie van armoede ontslae te raak,” het Rossouw gesê.

Lukas 18:16: Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.

Meer artikels