|| MEDIAVERKLARING || Kerskonsert om lig te bring vir Danville en Elandspoort

Kerskonsert

Die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA) en Lig Kinderbediening nooi u hartlik uit na ‘n onvergeetlike kerskonsert wat op 17 November 2021 om 18h30 by die Voortrekkermonument sal plaas. Kunstenaars wat gaan optree is die Stellenbosch tenoor Pierre van der Westhuizen, die Bronberg kinderkoor onder leiding van Daleen de Kock en die sanggroep Resonanz. 

Hoewel die konsert gratis aangebied word, vra die weldaadsorganisasie vir skenkings ten bate van Lig Kinderbediening se projekte wat die opvoeding en armoede nood van Afrikaanse gemeenskappe in Danville en Elandspoort aanspreek. 

Volgens Dinah Bronkhorst, die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Toekomstrust, span die twee organisasies reeds vir ‘n geruime tyd hul kragte saam om ondersteunende dienste — wat terapie, voedselskemas, behuising, vervoer en opleiding insluit — aan die sukkelende gemeenskap te bied. Hul nuutste oogmerk is om ‘n leersentrum van uitnemendheid op die been te bring.

“Daar is ‘n geweldige probleem wat opvoeding betref omdat die aanbod vir onderrig in Afrikaans vir agtergeblewe, arm gesinne hier beperk is. Talle ouers is nie in staat om skoolfonds te betaal of hul kinders na omliggende areas se Afrikaanse skole te kan vervoer nie. Kinders gaan dus of glad nie skool toe nie óf hulle het ‘n geweldige agterstand wanneer hul in graad een kom omdat hul graad R, wat nie deur die staat verplig of gesubsidieer word, mis. Hul val dus uit die bus, voltooi dikwels nie hul skoolloopbaan nie en verval in die sirkel van armoede,” verduidelik sy.

Die organisasies is beoog om ‘n Afrikaanse kleuterskool, Groei Goggas, met twee klasse in 2022 te open waar ouers op ‘n glyskaalbasis volgens hul inkomste tot die skoolfonds bydra. 

Die uitvoerdende hoof van Lig Kinderbediening se terapiesentrum, Elvira Burger, is besonder opgewonde oor die beoogde leerplan wat gevolg gaan word. “Dit word op die Montessori-tegniek gegrond wat beteken dat elke kind op sy eie tempo werk en waardes — soos respek, deursettingsvermoë en selfmotivering —  wat hul nie noodwendig by die huis aanleer nie vasgelê kan word. Hierdie is ‘n goeie vertrekpunt vir dié kinders om van die boeie van armoede ontslae te raak,” sê sy.

Hul is ook met die onderhandelingsproses besig om die aangrensende huis van die terapiesentrum te koop sodat hul meer Afrikaanse kinders kan akkommodeer. 

Volgens Louise Rossouw, besturende direkteur wat Lig Kinderbediening in 2008 begin het, is die doel van hul opheffingswerk in Danville en Elandspoort om ‘n toekoms van hoop vir hierdie gemeenskap daar te stel.  

“Lig Kinderbediening is destyds met die oog op evangelisasie gestig. Ons het egter vinnig van die skolastiese agterstande en ander maatskaplike probleme van die area bewus geword. Die aanvanklike bybelskool het vinnig tot ‘n terapiesentrum uitgebrei waar ouers opleiding ontvang en kinders oor naweke sinvol met skaak, musiek, kuns, stokperdjies, houtwerk en dies meer besig gehou word. Meer onlangs het ons ook ‘n huiswerksentrum vir laerskoolkinders begin,” verduidelik sy.

Die bemagtigingsprojek — met sy lewensveranderende doelwitte — het dus ‘n konstante behoefte aan vrywilligers, skenkings en fondse om hul goeie werk te voortsit. 

“Die gedagte is om ‘n holistiese opheffingsprogram hier te skep waar ons later bekostigbare privaat, Christelike, Afrikaanse leer-, sowel as ‘n vaardigheidsopleidingsentrum, kan stig sodat kinders van Danville en Elandspoort ‘n doelgerigte loopbaan kan volg en onafhanklik word. Maar as vertrekpunt fokus ons op die voorskoolse kinders,” sê Rossouw. 

Om u sitplek vir die konsert te bespreek of enige navrae rondom Lig Kinderbediening se projekte te rig kan u ‘n e-pos stuur aan admin@ligkinderbediening.co.za of hul kontak by 063 310 1719. ‘n Toegangsfooi van R20 per voertuig — vir die instandhoudingsfonds van die Voortrekkermonument — sal by die hek gehef word.

UITGEREIK: 8 November 2021

VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:

Dinah Bronkhorst

Uitvoerende hoof: Afrikaanse Toekomstrust

Tel: 072 126 1158

 

Meer artikels