|| MEDIAVERKLARING || Aksie om Afrikaans in Danville laerskole te red geloods

IMG_20210913_095826

In ‘n poging om Afrikaans as onderrigtaal in Danville te beskerm, het die Afrikaanse Toekomstrust en Lig
Kinderbediening hande gevat deur gister ‘n registrasiedag, ten opsigte van die 2022-skooljaar, by die Lig
Kinderbedieningsentrum in Danville te hou. Ingeligte vrywilligers het tientalle ouers bygestaan en die
nodige dokumentasie beëdig in ‘n poging om te verseker dat hierdie kinders se toegang tot geletterdheid
— en meer spesifiek onderrig in hul moedertaal — nie verder in die wiele gery word nie.

Volgens Dinah Bronkhorst, die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Toekomstrust, gaan dié area reeds
onder sy eie sosio-maatskaplike uitdagings gebuk en kan hul nie verder toesien dat kinders, weens hul
ouers se tekortkominge, ‘n kans op onderrig misloop en in die siklus van armoede verval nie.

“Nuwe intrekkers het die demografie van Danville ongelooflik baie verander. Die area het so verengels dat
die dubbelmedium-skool, Laerskool Westerlig, byvoorbeeld nou slegs een Afrikaanse klas per graad het en
nie meer die armblank, Afrikaanse gemeenskap kan akkommodeer nie. Hierdie gesinne, wat tipies in
wendyhuise agter in iemand se erf woon, het nie geld vir vervoer nie en is uitgelewer aan beperkte spasie
in skole wat hul te voet kan bereik,” verduidelik sy.

Volgens Elvira Burger, die uitvoerdende hoof van Lig Kinderbediening se terapiesentrum, is die registrasieaksie geloods om ouers te by te staan en probleme met die Departement van Onderwys se nuutste stelsel
te oorbrug. Hul het byvoorbeeld gister met ‘n pragtige dogtertjie gesit wat reeds verlede jaar in graad 1
moes wees, maar haar plek verbeur het omdat haar ouers haar nie kon inskryf nie.

“Die sisteem, wat veronderstel is om almal ‘n gelyke kans tot onderrig te gee, is besig om hierdie
minderbevoorregte kinders te faal. In baie gevalle is kinders, sonder enige ouerbetrokkenheid, heeltemal
op hulself aangewese. Afgesien van die feit dat ‘n ouer data of internettoegang benodig om sy of haar kind
in te skryf — wat hul nie het nie — het ons gister weer beleef dat dit tot twee ure kan neem om een enkele
aansoek, as gevolg van die Departement se stelsel wat hang, te voltooi,” verduidelik Burger.

Volgens haar is ouers ook geneig om graad R oor te slaan omdat daar geen kwytskelding vir skoolfonds
luidens die staat is nie. Leerders wat op hierdie belangrike graad, wat kinders voorberei en basiese
vaardighede vir graad 1 aanleer, uitmis se skoolloopbaan skop met ‘n geweldige agterstand af wat tot die
skamele slaagsyfer van 50% vir die area bydrae.

“Ouers is nie opgevoed oor die belangrikheid van stimulasie of hoe die hedendaagse skoolstelsel werk nie.
Hul kan dalk R100 per maand tot hul kinders se skoolfonds bydra en besef nie die impak die uitstel van een
jaar op hul kinders se toekoms het nie. Sonder die nodige ondersteuning het die kinders van Danville geen
kans om ooit hul potensiaal te bereik nie,” sê Bronkhorst.

Uit die aard van die finansiële krisis waarin die mense hul bevind spruit daar uiteraard ook ‘n sekondêre
behoefte aan skoolkosblikke, -klere en basiese skryfbehoeftes. Die nie-winsgewende organisasies beoog
ook om ‘n huiswerksentrum, wat spesifiek op graad 1 tot 3 leerders sal fokus, op die been te bring.

“Die eerste kinders met wie ons ‘n pad begin stap het, matrikuleer nou. Jy kan duidelik sien dat hul ‘n
ander koers as hul ouers kies en ambisie het om hul omstandighede te verbeter. Hierdie projek is ‘n
getuienis van hoop,” sê Burger.

Indien die publiek of instansies by die projek betrokke wil raak kan hul ‘n e-pos stuur na help@attsa.org.

UITGEREIK: 14 September 2021
VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:
Dinah Bronkhorst
Uitvoerende hoof: Afrikaanse Toekomstrust
Tel: 072 126 115

Meer artikels