|| MEDIAVERKLARING || ATT stel ‘n Skatkisfonds propvol toekomshoop bekend

kids-laughing

Die Afrikaanse Toekomstrust (ATT) stel Donderdag, 5 Augustus 2021, hul Skatkisfonds met trots bekend. Hierdie fonds, wat daarop gemik is om behoeftige kinders se lewens deur middel van rentevrye studielenings en beurse koers te gee, skop met hul donasie van R50,000 af.

Die ATT glo in Suid-Afrika se jeug, maar word daagliks gekonfronteer deur behoeftige kinders met ambisie en talente wat nie die finansies het om hul potensiaal te ontgin nie. Sorgsentrums, pleeghuise, kinderhuise, maatskaplike rade en –instansies sal vanaf 1 November 2021 om finansiële hulp by die Skatkisfonds kan aansoek doen. Die fonds is so saamgestel dat dit verskeie studente se unieke behoeftes sal kan diens.

“’n Skatkis verteenwoordig soveel meer as net goud, silwer en edelstene. Vir ATT bestaan dit uit ‘n versameling van oneindige moontlikhede, drome en nuwe horisonne. ATT hoop om genoegsame kapitaal deur die Skatkisfonds te genereer sodat elke pleeg- en kinderhuiskind in Suid-Afrika die geleentheid gebied kan word om te ontwikkel, leierskapskampe by te woon en naskool by ‘n geakkrediteerde instansies te kan studeer óf ‘n ambag te volg,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATT.

Die Skatkisfonds is ‘n praktiese manier vir firmas, instansies, individue en gemeenskappe om in Suid-Afrika se toekoms te belê en ons ekonomie te ontgin. ATT nooi u dus uit om hierby betrokke te raak.

“Afgesien van die belastingvoordeel en BEE-punte wat jou besigheid hierdeur kan verdien, is die waarde wat jy daaruit gaan put om ‘n impak op iemand se lewe te hê merkwaardig en onmeetbaar,” sê Bronkhorst.

Volgens haar word die fonds konsekwent en streng binne voorafbepaalde, korporatiewe riglyne geadministreer en bestuur. Dié diens sluit die hantering van alle administratiewe pligte asook die fasilitering van toekennings, projekte, skenkings en borgskappe in. Skenkers behou die reg voor om te besluit vir watter doel die fondse aangewend moet word:  watter instansie, individue of organisasie hul befondsing moet ontvang.

“Donateurs kry deurentyd terugvoer en word ook deur spesiale geleenthede uitgenooi om studente te ontmoet, te mentor en deel te raak van hul suksesverhaal. Dit is ongelooflik inspirerend vir beide partye,” verduidelik Bronkhorst.

Indien jy kan help om die bande van afhanklikheid te breek deur ontwikkeling en opleiding vir jongmense in Suid-Afrika meer toeganklik te maak, kontak ATT direk by 0121118352. Maak vandag nog ‘n wesenlike verskil in iemand se lewe deur hierdie wonderlike inisiatief te ondersteun!

 

UITGEREIK: 4 Augustus 2021
VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:
Dinah Bronkhorst
Uitvoerende hoof: Afrikaanse Toekomstrust
Tel: 072 126 1158

 

Meer artikels