’n Engel het my pad gekruis…

IMG-20211119-WA0020

Sestien jaar gelede spoel die storms van die lewe my en my kinders uit in Rawsonville. Volksvreemd, gebroke, bitter en kwaad vir die wêreld.

Twee week nadat ons ingetrek het, op ’n Dinsdagoggend, klop Gladys met ’n klein seuntjie (Johnathan) aan die hand aan my voordeur. Haar eerste woorde: “Mevrou, die Here het my gestuur om vir u te kom werk”.

Ek in my opstandigheid teenoor alles wat mooi en opreg is, stuur haar weg.

Woensdagoggend vroeg staan Gladys en Johnathan weer voor my deur. “Mevrou, die Here het my weer gestuur!’’ Ek, omgekrap vir haar onvermoë om te begryp, stuur haar weer weg. Donderdagoggend toe sy weer klop, maak ek die deur oop en sê sommer baie vinnig: “Jy kan kom werk, maar ek kan jou nie betaal nie. Ek is self werkloos en raadop.”

Ek sal haar giggel en groot glimlag nooit vergeet nie. Haar vrolike geaardheid en die kinderlike opgewondenheid om Vrydagoggend gratis in te val, het my diep geraak. Vrydagoggend 08:00 stap daar ’n engel in my huis in, met haar kleurvolle kopdoek, gemaklike skoene en die reuk van soetolie wat sag om haar hang. In haar mandjie haal sy ’n kombersie uit vir Johnathan, wat ewe gemaklik dadelik daarop gaan sit, ’n sakkie tee toegeknoop, ’n bakkie vol tuisgebakte vetkoeke en ’n bandspeler wat sy sonder skroom of verskoning langs die ketel inprop.

“Mevrou”, sê Gladys, “Ek kan nie lees of skryf nie, maar ek luister elke dag na die Bybel”. Sy druk summier die aan-knoppie en begin water in die wasbak tap. Genesis weergalm elke dag deur die huis, ek gaan kruip in my kamer weg, loop draaie in die tuin, ek weier om te hoor of te voel. Gaan druk ek die stop-knoppie, hoor ek gou weer Genesis dreun sonder moeite voort.

Ek is kwaad vir alles. Die Here, het volgens my, my en my kinders verlaat. Die pyn en hartseer, die rou en woede oorval my gereeld. Een middag net voordat Gladys huis toe gaan, kry sy my in die badkamer. Plat langs die toilet. Uitgehuil en leeg. Sy raak my saggies aan, neem ’n warm waslap en vee my gesig af, en met soveel liefde en deernis sê sy: “Mevrou, gaan haal vir Dinah daar waar jy haar onder ’n klip begrawe het en moenie die heinings plant voordat die Here nie jou horisonne bepaal het nie. Ons is palmbome, ons gaan lê nie, al woed daar storms daar buite.”

Gladys het aangedring om elke oggend voordat ons die dag aanpak te bid. Haar eenvoudige gebed het altyd presies so begin: “Here, dit is ek Gladys…” Dié gebed het met tyd ’n bekendheid binne my kom wakker maak. My weer laat glo, hoop en lag.

So raak ons twee se paaie een, deel ons wrede verhale van ons verlede, genees ons mekaar se emosionele wonde en versorg ons mekaar se gees, en sonder moeite en baie groot woorde, kom bring Gladys weer die warmte van sonskyn. Jesus in ons lewe.

Gladys maak my deel van haar wêreld en saam bou ons vir haar ruimtes waarbinne sy haar hartsbegeertes kan uitleef: Gemeenskapswerk tussen die kinders en bejaardes. So klink ons woorde dieselfde, die dade wat sy verrig raak ook myne, die gebede word pilare waarop ons bou, droom en lewe. Ons pak elke week die bandspeler in haar mandjie en maak toebroodjies of vetkoeke. Die Rawsonville-kinders leer om te sing, en so lofsang en dans hulle die sorge, seer en pyn vir ’n wyle weg. Hulle stap elke middag in die stofpad huis toe, vrolik met vol magies en ’n stukkie sonskyn in hul hart. Ons plant sonneblomme in haar tuin, want sy het altyd haar gesig na die son toe gedraai.

Drie jaar later verlaat ek Rawsonville, en ek groet vir Gladys bitterlik swaar. Haar afskeidsgeskenk aan my en my kinders was ’n yster-boksie, my jongste maak dit gretig oop. Groot is sy verbasing omdat daar dan niks in die boksie is nie. Gladys se woorde: “Zander, binne daardie boksie is ’n stukkie van my, Jesus se liefde wat nooit sal opraak nie en seënwense op julle toekomspad…” Vir my verseker sy: “Dit wat die Here saamgebind het, sal geen mens of afstand ooit kan opbreek nie”.

Vir 16 jaar lank was dit die waarheid. Ek en Gladys gesels omtrent elke dag, stuur stem-boodskappe, deel mekaar se lewenspaaie en uitdagings, ons vier oorwinnings, deel hope foto’s en bid saam. So raak sy deel van my DNS en toekomsplanne. Saam dien ons die gemeenskap en kinders van Rawsonville elke dag.

Om 04:00 op 9 Maart 2022 lui die foon. “Mevrou, Gladys is nie meer met ons nie”.

Skok en ontkenning, want nooit het ek gedink ek gaan so vroeg in my lewe, sonder my suster, reisgenoot en geesgenoot die pad verder moet stap nie. Die reuk van ’n pot groentesop en vetkoek sal my altyd aan Gladys herinner, so ook haar warm liefde en oop arms vir mense wat seer het.

Met haar laaste stemboodskap ’n dag voor sy sterf, sing sy met groot liefde: “Dit was net Sy liefde alleen, op die heuwel van Golgota…” Sy giggel omdat sy nie die wysie lekker kon hou nie en sy herinner my weer: “Way Maker, Miracle Worker, Promise Keeper, Light in the Darkness – OUR GOD that is WHO You are…’’

Ek sluit af met hierdie eenvoudige gebed. “Here, dit is ek Dinah… Gee vir my engel Gladys ’n drukkie en sê vir haar dankie. Ons mis haar, maar daar groei oral in Suid-Afrika sonneblomme wat met haar Jesus-liefde geplant is. Hulle draai elke dag hul gesiggies na die son en so leef sy voort in elke saad wat ontkiem in ’n blom. Ons gun haar die rus en vrede. Amen’’.

Meer artikels