Betsie Dreyer-gemeenskapskombuis

Die Betsie Dreyer-gemeenskapsfonds het ’n gemeenskapskombuis wat voedsel vir byna 500 mense verskaf en dringend hulp nodig het om die daaglikse kospakkies te kan aanhou voorsien.

 

Die Betsie Dreyer-gemeenskapsfonds se gemeenskapskombuis is in Pretoria-Wes geleë.

 

Dié gemeenskapskombuis is ’n bron van voedsel vir trotse mense wat afhanklik is van ’n maandelikse SASSA toelaag. Hulle het eenvoudig nie voldoende fondse om te oorleef nie.

“Ons vra vir hulp om elke dag aan dié sowat 500 mense ’n gesonde bord kos te voorsien. Ons benodig bydraes of kos skenkings,” het Dinah Bronkhorst van CPI SA gesê.

 

“Weens ons land se ramptoestand het 150 gesinne kom registreer vir kospakkies. Meer as 300 kinders kom ook na dié kombuis om kos te kry om hul honger magies te vul.”

 

Volgens Bronkhorst word finansiële bydraes of kos skenkings dringend benodig om weeklikse kospakkies aan die gesinne te voorsien.

Filippense 4:6:

“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles
deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”