|| MEDIAVERKLARING || Bring jou ou handsak en verander ‘n vrou se lewe, nooi ATT

Daisy_Pecan_5_1024x1024

“Een uit elke drie vroue wêreldwyd sal in hul leeftyd een of ander vorm van mishandeling ervaar,
hetsy fisies of emosioneel. Die doel van die genadesakprojek is om hierdie groep vroue te bereik en
uitkoms deur middel van ‘n vyfpuntplan aan hulle te bied,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof
van die ATT.

Die ATT, en ‘n paar ander nie-winsgewende organisasies, skep saam met die sangeres Corlea en
Elzaan van der Merwe van MaMilla Fashions hoop deur mishandelde vroue só te help. Die projek is
reeds vir meer as twee jaar aan die gang. Tydens die FAK Polsslag Kosfees wat op Erfenisdag (24
September 2021) by die Voortrekker Monument in Pretoria plaasvind, sal die ATT ‘n stalletjie hê
waar hierdie tweedehandse handsakke ingegee kan word.

“Genade is so ‘n mooi woord, maar dit is ook ‘n werkwoord. Jy kan vandag deel word van hierdie
vrouens se nuwe begin deur ou handsak gevul met ‘oorlewingsitems’ en inspirasie te vul. Dit sal ‘n
gesigwas, nag- en dagroom, haarprodukte en ‘n borsel, lyfseep, ‘n waslap, deodorant (aanrol en
spuit), handeroom, gesigsponsies, weggooibare klamlappies (wipes), Dettol, ‘n tandeborsel,
tandepasta, flos, skeermesse, wasgoedpoeier en sanitêre doekies insluit,” verduidelik sy.

Volgens Bronkhorst kan jy nie by ‘n slagoffer aankom met ‘n mooi handsak nie. Buiten vir ‘n die
noodsaaklike, persoonlike, nie-bederfbare items benodig ‘n vrou wat in hierdie situasie verkeer
berading, mediese hulp asook regshulp of selfs ‘n interdik.
“Sonder hierdie emosionele en finansiële bystand kan sy nie uit haar omstandighede ontsnap of dit
verander nie,” sê Bronkhorst.

Op grondvlak help die ATT om hierdie genadesakke by slagoffers uit te kry deur huise van veiligheid
te besoek en maatskaplike werkers en ander relevante organisasies te betrek. Die ATT het ook,
weens hul betrokkenheid by die genadesakprojek, die groot nood vir ‘n huis van veiligheid — waar
mishandelde vroue weer hul voete kan vind — raak gesien. Hul droom om só huis te open, is op die
kaarte.

“Ons wil in staat wees om hul vir ten minste drie maande hier te huisves en basiese opleiding in
byvoorbeeld administrasie te te gee sodat hulle vir hulself en hul kinders kan sorg. Ons wil vir hul kan
sê: Hier is ‘n huis waar jy kan gaan woon en waar jy weer jouself kan vind,” verduidelik sy.
Indien u by die genadesakprojek betrokke wil raak, kontak Bronkhorst by 012 111 8352 of stuur ‘n e-pos na help@attsa.org.

UITGEREIK: 24 Augustus 2021
VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:
Dinah Bronkhorst
Uitvoerende hoof: Afrikaanse Toekomstrust
Tel: 072 126 1158

Meer artikels