Maatskaplike werkers dankbaar vir ekstra opleiding

HelpDieHelpers-Logo-01

Maatskaplike werkers speel ’n baie belangrike rol in die Suid-Afrikaanse samelewing, maar hulle kry nie naastenby al die ondersteuning wat hulle nodig het nie en daarom het die Afrikaanse Toekomstrust Suid-Afrika (ATTSA) in samewerking met Fact Network en S-leer besluit om kardinale opleiding te verskaf.

Vanjaar was daar reeds vier sessies en die terugvoer wat ontvang word, is positief.

“Volgehoue opleiding aan maatskaplike werkers is van kardinale belang om effektiewe dienslewering in praktyk te verseker. Opleiding bied aan maatskaplike werkers nie net die wel begronde teoretiese grondslag nie, maar ook praktiese vaardighede wat hulle in dag-tot-dag werk met ‘n verskeidenheid van kliënte groepe kan gebruik. Deur die opleiding bly maatskaplike werkers op hoogte van die jongste literatuur, bewys-gebasseerde praktykvaardighede en word daar verseker dat dienslewering aan beide etiese en wetlike vereistes voldoen,” het dr. Louise Aucamp, stigter van Fact Network en aanbieder van die kursus gesê.

“ATTSA se fokus in die projek is ‘Help die Helpers’. ATTSA het die behoefte in die veld geïdentifiseer om gehalte opleiding aan maatskaplike werkers beskikbaar te stel ten einde die maatskaplike professie se hande te versterk om effektiewe dienste te lewer in ’n veld met min hulpbronne,” het dr. Aucamp bygevoeg.

Maatskaplike werkers se uitdagings wissel van hul daaglikse take, gebrek aan befondsing tot moeilike omstandighede.

“Maatskaplike werkers (veral die werksaam by nie-winsgewende organisasies) is van die swak betalende beroepspersone in Suid-Afrika. Hulle word dikwels gekonfronteer met minimale ondersteuning en hulpbronne in die verrigting van kardinale en belangrike werk. Deur die beskikbaarstelling van die opleiding verseker ATTSA dat Maatskaplike Werkers deur middel van hoë gehalte opleiding ondersteun word met kennis en vaardighede om effektiewe dienste te lewer. Die beskikbaarstelling van gratis opleiding aan Solidariteit Maatskaplike Werk Gilde-lede verlig verder ook die finansiële las op maatskaplike werkers wat andersins self fondse sou moet genereer om opleiding by te woon en te voldoen aan SACCSPS se vereistes vir volgehoue professionele opleiding.”

Die volgende reeks sessies is 13-15 Julie. Dit is ’n kombinasie van aanlyn sowel as fisiese netwerkgeleenthede in die streke. Van die onderwerpe wat aangeraak sal word, sluit in normale seksuele ontwikkeling tot problematiese seksuele gedrag in kinders; dinamika van bekendmaking van seksuele misbruik en wetgewing tot verpligte aanmelding.

Dié sessies sal almal deur dr. Aucamp gelei word.

“Dit is wonderlik om positiewe terugvoer van die maatskaplike werkers wat die opleiding-sessies bywoon te kry. Ons hoor ook van hul dankbaarheid. Ons is so ongelooflik dankbaar vir die werk wat hulle doen, so dit is goed om te weet ons kan help,” het Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATTSA gesê.

“Maatskaplike werkers en hul taak lê ons na aan die hart en daarom sal dit altyd ’n prioriteit van ATTSA wees om so ver as moontlik hulle te help in die uitvoer van dié kardinale pligte.”

Meer artikels