Kragtoevoer herstel nadat regsfirma ingryp

redding02

ʼn Dispuut met die Tshwane-stadsraad oor foutiewe meterlesings het daartoe gelei dat Kwaggaspoort Reddingsdaad, ʼn projek wat deur Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA) ondersteun word, se krag onwettig op Vrydag 26 Augustus afgeskakel is. Dit ten spyte van artikel 102 van die Munisipale Stelselwet wat bepaal dat die krag nie afgeskakel mag word terwyl daar ʼn dispuut bestaan nie.

Die munisipaliteit het hulle, soos vele kere vantevore, nie hieraan gesteur nie, asook nie aan die feit dat daar bejaardes en gestremdes op die perseel woonagtig is nie. ATTSA het reeds ʼn klagte in Mei 2021 aanhangig gemaak.
 
Maroela Media het op Dinsdag 30 Augustus hieroor berig, terwyl kykNET na afloop van hulle besoek aan Kwaggaspoort Reddingsdaad ʼn insetsel hieroor tydens die nuus op Woensdag 31 Augustus uitgesaai het. “Ons het amper onmiddellike reaksie uit die publiek gekry, waaronder die regspraktyk Weavind & Weavind Inc, met wie ons dadelik in verbinding getree het.

Weavind & Weavind Inc het die munisipaliteit dringend versoek om die kragtoevoer te herstel, maar toe hulle aanvanklik deur die munisipaliteit geïgnoreer is, het hulle ʼn skrywe aan die munisipaliteit gestuur om hulle in kennis te stel dat ʼn dringende hofaansoek teen die munisipaliteit geformuleer sou word indien die kragtoevoer na Kwaggaspoort Reddingsdaad nie teen Saterdag 3 September herstel word nie. Die volgende stap sou ʼn interdik met ʼn kostebevel teen die munisipaliteit wees, aangesien die kragtoevoer onwettig afgesny is,” verduidelik Gerhard Erasmus, regskonsultant vir ATTSA.

Kragtoevoer is Saterdagoggend herstel en ʼn skrywe is deur die munisipaliteit aan die regsfirma gestuur waarin daar onderneem is om ʼn ondersoek na die kwessie te las. Hierin verklaar hulle ook dat die aanmaning en kredietbeheer vir 30 dae opgehef sal word, maar dat hulle voorsien dat die kwessie gedurende hierdie tydperk opgelos sal word.

ATTSA en inwoners van Kwaggaspoort Reddingsdaad is verlig dat die krag weer aangeskakel is, maar Renier du Preez, voorsitter van Huis Eljada en ook verbonde aan ATTSA, wonder tereg hoekom dit nodig is om eers tot sulke drastiese stappe te moet oorgaan alvorens daar ʼn positiewe uitkoms is: “Wat van al die skuilings wat nie dieselfde toegang tot mediaskakeling het nie? Hierdie saak bevestig weereens die belangrikheid van ondersteuning aan die swakkeres en behoeftiges; hetsy met kos, skuiling, medies, of soms met agitasie, invloed of die reg.”

Anton Smith, voorsitter van ATTSA, vertel ook dat daar reeds skenkings begin inkom het. “ATTSA wil Kwaggaspoort Reddingsdaad baie graag van die kragnetwerk afhaal met behulp van sonkrag- en gastoerusting. Die skenkings wat ons ontvang sal spesifiek hiervoor aangewend word; ons is baie dankbaar daaroor.”

 

Meer artikels