Huis van Drome

Die Huis van Drome spreek die behuisingsbehoefte vir kinderhuis-kinders ná matriek aan.

 

Sodra kinderhuis-kinders klaar is met skool, moet hulle die veilige hawe verlaat en soms teruggaan na ongewenste omstandighede waaruit hulle gekom het.

“Elke jong volwassene het in hul lewe een geleentheid nodig, net eenvoudig iemand wat in hul glo,” sê Elanie van Niekerk van Just Imagine Properties se welwillendheidsbeen DreamTeam.

“Tesame met die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA) is die groot behoefte geïdentifiseer en die Huis van Drome geskep as wegspring-platform om jongmense toe te rus om ’n sukses van hul lewe te maak.”

 

Volgens Van Niekerk is Huis van Drome die resultaat van ’n passie vir die Moot. 

“Ons wil help. Met die Huis van Drome kry ons die kans om die jongmense in die stabiele en liefdevolle omgewing te hou waaraan hulle gewoond geraak het.”

In die eerste Huis van Drome sal kinders van President Kruger-kinderhuis wat matrikuleer het en met opleiding vir hul onderskeie loopbane begin, maar nie ouers en familie het wat hulle kan help deur die regte omgewing en geleenthede te bied nie, bly.

Maandelikse behoeftes sluit in vervoer, sakgeld vir die inwoners, onderhoud- en skoonmaakdienste, water en ligte rekening, ’n salaris vir die maatskaplike werker en kos en kruideniersware. 

Renier du Preez, Huis van Drome se projekbestuurder, voeg by: “Ofskoon geld belangrik is en alle finansiële bydraes welkom is, is dit ook belangrik om betrokkenheid te kry. Daar is baie werk wat in die Huis van Drome gaan en ons het hande nodig.”

Volgens Du Preez is die behoefte groot en is die hoop dat dié Huis van Drome net die begin is. “Ander kinderhuise het ook die behoefte. Die droom is om ander areas ook te bereik.”

Vir meer besonderhede oor Huis van Drome stuur epos aan dreamteam@justimagineproperties.com