Genadesak-fonds

Bring jou ou handsak en verander ‘n vrou se lewe, nooi ATT

“Een uit elke drie vroue wêreldwyd sal in hul leeftyd een of ander vorm van mishandeling ervaar, hetsy fisies of emosioneel. Die doel van die genadesakprojek is om hierdie groep vroue te bereik en uitkoms deur middel van ’n vyfpuntplan aan hulle te bied,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van die ATT.

 

ATTSA, en ’n paar ander nie-winsgewende organisasies, skep saam met die sangeres Corlea en Elzaan van der Merwe van MaMilla Fashions hoop deur mishandelde vroue só te help. Die projek is reeds ’n paar jaar aan die gang.

GenadeSak

“Genade is so ‘n mooi woord, maar dit is ook ’n werkwoord. Jy kan vandag deel word van hierdie vrouens se nuwe begin deur ou handsak gevul met ‘oorlewingsitems’ en inspirasie te vul. Dit sal ’n gesigwas, nag- en dagroom, haarprodukte en ’n borsel, lyfseep, ’n waslap, deodorant (aanrol en

spuit), handeroom, gesigsponsies, weggooibare klamlappies (wipes), Dettol, ’n tandeborsel, tandepasta, flos, skeermesse, wasgoedpoeier en sanitêre doekies insluit,” verduidelik sy.

 

Volgens Bronkhorst kan jy nie by ’n slagoffer aankom met ’n mooi handsak nie. Buiten vir die noodsaaklike, persoonlike, nie-bederfbare items benodig ’n vrou wat in hierdie situasie verkeer berading, mediese hulp asook regshulp of selfs ’n interdik. “Sonder hierdie emosionele en finansiële bystand kan sy nie uit haar omstandighede ontsnap of dit verander nie,” sê Bronkhorst.

 

Op grondvlak help die ATT om hierdie genadesakke by slagoffers uit te kry deur huise van veiligheid te besoek en maatskaplike werkers en ander relevante organisasies te betrek. Die ATT het ook, weens hul betrokkenheid by die genadesakprojek, die groot nood vir ’n huis van veiligheid — waar

mishandelde vroue weer hul voete kan vind — raak gesien. Hul droom om só huis te open, is op die kaarte.

“Ons wil in staat wees om hul vir ten minste drie maande hier te huisves en basiese opleiding in byvoorbeeld administrasie te te gee sodat hulle vir hulself en hul kinders kan sorg. Ons wil vir hul kan sê: Hier is ’n huis waar jy kan gaan woon en waar jy weer jouself kan vind,” verduidelik sy.

Indien u by die genadesakprojek betrokke wil raak, kontak Bronkhorst by 012 111 8352 of stuur ’n e-pos na help@attsa.org.