ATTSA Naaldwerksentrum

naaldwerk

Die Afrikaanse Toekomstrust Suid-Afrika (ATTSA) is opgewonde oor die opening van die Martiniaal-naaldwerksentrum by die Kwaggasrand Reddingsdaad-perseel.

Martiniaal word bestuur en bedryf deur Martina Brink. Die fokus van hierdie projek is om ’n skoon, veilige en gasvrye ruimte te skep waarin die inwoners van Kwaggasrand en ander belanghebbendes naaldwerk-projekte onder die leiding van Martina aanpak. 

“Dit was nog altyd my droom om naaldwerkopleiding aan minder bevoorregtes te gee,” het Martina vertel.

“Die vernaamste oogmerk vir die sentrum gaan wees om algemene naaldwerkopleiding te gee en in die proses by te dra tot die deelnemers se menswaardigheid. Maar waaroor ek waarskynlik die meeste opgewonde is, is om vir almal wat betrokke gaan wees by die opleiding en projekte ’n voorbeeld van Jesus se liefde te wees.”

Volgens Martina het sy nog altyd ’n passie vir naaldwerk gehad en om dit nou met ander te deel, maak haar baie opgewonde.

“Die persone waarmee ek die voorreg gaan hê om te werk, het soms nodig om herinner te word aan Jesus se liefde. Nie net in woorde nie, maar in dade en ek sien uit na die geleentheid om Sy liefde uit te leef.”

ATTSA het reeds ’n goeie kwaliteit masjien vir die werk aangeskaf. Daar kort egter nog fondse en naaldwerk-items om die sentrum optimaal te laat funksioneer. Martina het al verskeie projekte hanteer en uitgevoer deur haar Martiniaal-naaldwerksentrum.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor al die moontlikhede wat Martina en haar sentrum ons mense bied. Die sentrum moet beide naaldwerk-projekte aanpak en ook werksgeleenthede bied aan minderbevoorregte individue,” het Dinah Bronkhorst, Uitvoerende Hoof van ATTSA gesê.

“Om saam met ’n persoon soos Martina te werk, is ’n voorreg, want sy leef ‘Hulp met Hart’. Saam met Martina het ons groot doelwitte en ek weet met haar ingesteldheid, gaan drome waar word.”

Daar is op 1 Julie ’n geleentheid waartydens die Martiniaal-naaldwerksentrum en Lappies van Hoop-projek bekend gestel gaan word. Vir meer besonderhede kontak help@attsa.org

 

 

Meer artikels