ATTSA Maatskaplike Werker aanstelling

attsa

Met die aanstelling van Driana Zandberg het die Afrikaanse Toekomstrust Suid-Afrika (ATTSA) iemand in sy midde wat ook hulp met hart hoog op prys stel.

ATTSA se lese is nie verniet “Hulp met Hart” nie. Vir Dinah Bronkhorst, hoof uitvoerende beampte van ATTSA, is dit van kardinale belang dat elke taak en projek met liefde aangepak word.

“Met Driana se aanstelling het ons iemand gevind wat ‘Hulp met Hart’ uitleef en dit is vir ons belangrik. Die tydsberekening van haar aanstelling is ook perfek, siende dat in Maart ons Maatskaplike Werkers-maand vier! Hierdie aanstelling is vir ons ’n groot en belangrike een. Maatskaplike werk en kinders lê ons na aan die hart,” het Bronkhorst gesê.

Zandberg sal gesetel wees by die LIG terapie-huis in Danville en Elandspoort. Sy sal betrokke wees by die Groei Goggas om die kinders te assesseer en terapie te gee waar nodig. Sy is ook verantwoordelik vir die Mamma en Baba en Mamma en Peuter-groepe. Verder gaan sy nog belangrike navorsing doen en ouers met maatskaplike uitdagings bystaan.

Zandberg werk al 11 jaar as maatskaplike werker en het ’n Meestersgraad in Spelterapie en is tans besig met haar Meestersgraad in Forensiese praktyk.

“Die beste deel van my werk is beslis die pad wat ek saam die kinders stap. Die voorreg om hul unieke en uiteenlopende stories te hoor en hulle te leer ken vir die mensie wat hulle is,” het Zandberg vertel.

“Vir my is die grootste uitdaging van maatskaplike werk die sisteme in ons land wat ons kinders faal en dat ons baie keer vind daar nie hulp is nie. Om wel my deel te kan doen om die uitdaging aan te pak, is ’n voorreg waarvoor ek oneindig dankbaar is.”

Volgens Zandberg het sy dié roeping – dis immers soveel meer as ’n beroep vir haar – gekies nie net om kinders en gesinne se stories te hoor nie, maar ook om ’n stem vir hulle te wees en om te help waar sy kan.

“My ATTSA-pos is ’n kans om ’n sentrum te begin waar ons Lig se kinders en gesinne se stemme kan hoor, hulle help, hulle bemagtig, ondersteun en om te sê ons sien julle raak en ons luister. Om die sentrum reg te bestuur, is belangrik vir my. Ek wil hê ons moet ’n stempel af druk dat ons

’n professionele terapie-sentrum in Pretoria-Wes is wat nie net goeie diens lewer nie, maar ook ’n hart en omgee diens lewer!”

 

Meer artikels